Sunday, 3 April 2016

Die interaktiewe witbord... "say what?"

Dit is vanjaar my sewende jaar wat ek studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Ja, lag maar... "forever student". Ek maak deel uit van die ouer oftewel as jy wil die "gematureerde" garde. Ek is een van "daardie" studente wat nog op skool kon kies tussen hoër- en standaardgraad vakke; wat gelukkig nog huiskoudkunde as vak kon neem en weet hoe ’n Bernina naaimasjien werk. Maar ek is nie ’n student wat al vir ewig hier is, omrede ek vakke sleep, ’n akker nog nie op my kop geval het of ek nog nie op Catwalk se verhoog gedans het nie. Na die voltooiing van my Meestersgraad in Afrikaanse Letterkunde én die vul van ’n voltydse posisie as onderwyseres by Hoërskool Stellenbosch, sit ek vandag in die NOS-klas om verskeie redes, onder andere: my liefde en passie vir kinders en vir my vakgebied én om myself te bevorder, sodat ek leerders eendag in skole beter kan onderrig, bystaan en help.

Nou die witbordkwessie... in my lewe het ek nog nooit van dié bord gehoor nie en dit verbaas my ook nie, want ek is glad nié ’n tegnofiel nié. "Ja, ons het baie hiervan in die laai by die huis. Dit is goed om wit as ’n kleur te kies, want dit pas by alle breekware en eetgerei.". Dit was my reaksie toe ’n vriendin vir die eerste maal oor die "witbord" gepraat het. Sy wou dit vir haar glaskas-aanbieding gebruik het. Nee, ek het nog nooit met ’n witbord gewerk of daaraan geraak nie. Miskien voel ek nog geïntimideerd deur die skyn of "heiligheid" daarvan, omrede dit letterlik bo my vuurmaakplek (ook in klaskamers of lesinglokale) is. In sommige lokale sal wie ook al verantwoordelik daarvoor is die bord asseblief maar laer moet skuif, want ek is té kort om daarby uit te kom. 

Ek dink mense is geneig om te dink dat die sogenaamde vorige of eks-Model C skole die nuutste tegnologie in die klaskamers het. Dit is waarskynlik meestal die geval, maar dit is beslis nie altyd so nie. Dit is nie net "armer" skole wat nie die nuutste tegnologie het nie. Heelparty "gemiddelde" of "goeie" staatskole het ook nie die nuutste tegnologie nie. Ek dink dit kan verseker nuttig aangewend word in ’n klasopset, omrede die aanbiedingsproses meer spontaan of sonder onderbrekings kan plaasvind as die onderwyser na iets spesiefiek wil verwys. Hy of sy kan ook tydens die les grafieke of prente teken op die bord, sonder om nog vir die afgeleefde puntjie van ’n stuk bordkryt te soek. Maar daar sal opleidingssessies moet wees vir onderwysers soos ek. Ek vra baie mooi... asseblief.     


Monday, 14 March 2016

Leerderbetrokkenheid in die klaskamer


In die video van Foley (2014) getiteld "Theaching the Whole Child", word daar van die standpunt uitgegaan dat daar drie belangrike aspekte is wat in gedagte gehou moet word vir betekenisvolle leerderbetrokkenheid in die klaskamer. Hierdie aspekte is: pastorale sorg, effektiewe leer en hulpbronbeskikbaarheid en -gebruik.


’n Skool waarin skoliere floreer, is gewoonlik een waarin daar positiewe menseverhoudings is en die onderwysers omsien na die algemene welstand van die leerders. Laasgenoemde behels verantwoordelikheid van die onderwyser om beskikbaar en toeganklik vir leerders te wees, ’n kreatiewe klaskamer te skep, effektief met leerders te kommunikeer (byvoorbeeld deur geskrewe tekste of mondelinge), empatie te hê met skoliere en in te gryp waar nodig (byvoorbeeld as ’n leerder geterg word deur ander leerders).

Die onderwyser behoort egter nie al die verantwoordelikheid op hom-/haarself te neem nie. Leerders moet bewus gemaak word van dit wat hulle in die klas doen en hoekom hulle dit doen. Die voorbeeld wat Wills in die artikel - "Applying Mindfulness to Mundane Classroom Tasks" - gebruik, is die hantering van geraas in die klaskamer. Deur middel van groepwerk en kreatiwiteit (waterbakke of papiere wat op die tafels geplaas word en die skuif van tafels sonder dat daar gemors of geraas word of selfs leerders se gebruik van hul verbeelding) maak die onderwyser die leerders daarvan bewus dat hulle daagliks raas as hulle by die klas in stap en tafels of stoele begin skuif. Deur die leerders op ’n kreatiewe wyse self te laat besef wat hulle verkeerd doen, neem die leerders verantwoordelikheid vir hul eie dade eerder as wat die onderwyser daarvoor verantwoordelikheid neem. Die benutting van beskikbare hulpbronne kan die onderwyser help om sy/haar les te versterk of te ondersteun. ’n Voorbeeld is die gebruik van multimedia in die klaskamer. In die geval van hulpbrongebruik moet die onderwyser egter waak daarteen dat die hulpbronne nie die leerders se aandag aflei van die taak waarmee hulle veronderstel is om besig te wees nie. Die hulpbronne moet eerder bydra tot effektiewe leer.

Daar is drie vlakke noodsaaklik vir effektiewe leer om plaas te vind: akademiese-, gedrags- en die sosiale vlak. Weereens rus die verantwoordelikheid op die onderwyser om te sorg dat interaktiewe leer plaasvind. Eerstens behoort die onderwyser bewus te wees van die kulturele agtergrond en voorkennis van sy/haar leerders. Tweedens moet daar kommunikasie plaasvind en positiewe verhoudings wees tussen die skool en die leerders se ouerhuise. Derdens moet die onderwyser ondersteuning bied vir leerders wat sukkel of waar nodig. Vierdens is dit myns insiens belangrik dat die onderwyser vir leerders leer hoe om hul tyd effektief te bestuur en te prioritiseer. Die onderwyser kan oor hom-/haarself reflekteer en vir leerders se terugvoer oor ’n aanbieding vra, om sodoende agter te kom hoe effektief sy/haar onderrig is. 


Effektiewe leer kan plaasvind deur middel van goeie menseverhoudings, die verantwoordelikheid van onderwysers om ’n kreatiewe, toeganklike en interaktiewe klaskamer te skep, hulpbronne effektief te benut en leerders te vertrou om sélf verantwoordelikheid vir hul dade te neem.

Tuesday, 8 March 2016

Is leiding deur onderwysers ’n noodsaaklikheid vir effektiewe leer om plaas te vind?


Onderrig en leer vind gewoonlik vir kinders binne ’n skoolopset plaas. Die onderwyser is veronderstel om leiding te gee waar nodig en om leerders aan te moedig om interaktief by die leerproses betrokke te raak. Maar ongelukkig is dit in heelparty skole nie die geval nie. Daar ontstaan dikwels ’n kultuur van stilte ("culture of silence"). In plaas daarvan dat leerders en onderwysers van en by mekaar leer, gebeur dit dikwels dat leerders oorlaai word met inligting wat die onderwyser aan hulle gee en wat hulle dan moet verwerk. Die ideale tweerigting-proses van leer tussen leerders en onderwysers vind dus nie plaas nie. Dit is eerder ’n eenrigting-proses van leer wat ontstaan. 

In Hamilton se artikel, "The Standards of Critical Digital Pedagogy", skryf hy metafories dat leerders beskou word as "banke" (oftewel "empty vessles") waarin onderwysers inligting kan "deponeer". Hiérdie wyse van leer is meestal oneffektief, weens passiwiteit van die leerders se kant af. Om dié rede het leerders byvoorbeeld begin met "The Independent School Project". Hierdie projek, wat gaan om leerders wat hulself deur middel van tegnologie leer en bevorder, is begin vanweë die neiging onder leerders om onafhanklik te leer. Daar is egter voor- en nadele aan so ’n projek betrokke en vervolgens word dit bespreek. 

’n Projek soos "The Independent School Project" is gebaseer op demokratiese beginsels en dus word onderrig vir almal, ook vir die publiek, gebied. Hierbenewens lei dit tot ’n meer verligte samelewing. Leerders het die opsie om meer navorsing te doen oor en te leer van die vakgebiede wat hulle interesseer. Waar skole daartoe geneig is om leerders te beperk, kan daar deur ’n projek soos "The Independent School" onafhanklik gefunksioneer en geleer word. Die verantwoordelikheid wat op leerders se skouers rus, is egter aansienlik groter as in die geval van onderrig en leer in ’n skoolopset.

Buiten die feit dat ’n projek soos "The Independent School Project" die status quo ontwrig, is daar ander nadele aan verbonde. Soos genoem, leer leerders slegs oor dit waarin hulle belangstel. Alhoewel dit goed is omrede leerders doen waarvoor hulle ’n liefde of passie het en dit heelwat druk van hul skouers kan afhaal, is die vraag wat ontstaan: "Hoe weet ’n leerder waarvoor hy/sy ’n liefde of passie het, as hy/sy nie genoeg aan ander vakgebiede blootgestel word nie?". Aktiewe interaksie, wat veronderstel is om in klaskamers plaas te vind, ontbreek in die geval van onafhanklike leer. Leerders en die onderwyser kan dus nie by en van mekaar leer nie. Onafhanklik leer gaan ook met méér verantwoordelikheid gepaard en dit kan om die beurt weer veroorsaak dat leerders ’n toename in druk ervaar. Nog nadele wat aan die projek verbonde is, is die feit dat nie almal: toegang tot tegnologie het, tegnologiese vaardighede het, die vermoë het om tegnologie binne sy/haar konteks te gebruik of die vermoë het om te kies wat hy/sy moet gebruik nie.

Myns insiens is tegnologie ’n belangrike hulpmiddel wat in klaskamers gebruik en benut moet word - maar nie ten koste van onderwysers nie. Onderwysers is daar om vir leerders die nodige leiding te gee en nie om hulle te oorweldig met die bombardering van inligting nie. Leer moet aktief wees. Dit beteken nie noodwendig dat tegnologie ’n noodsaaklikheid in die klaskamer hoef te wees nie. Maar dit bly belangrike hulpmiddels wat onderwysers daartoe in staat stel om met leerders te kan kommunikeer. 




Monday, 29 February 2016

Sosiale media breek klaskamermure af 

In die 21ste eeu waarin ons leef is sosiale media onlosmaaklik deel van ons alledaagse lewe en ervaringswêreld. Daarom word daaglikse nuusgebeure wat in die wêreld plaasvind al hoe meer in klaskamers betrek. Deur middel van sosiale media kan ’n onderwyser en leerders alternatiewelik met mekaar kommunikeer binne én buite die klaskamerruimte. Tot redelik onlangs was onder meer selfone, tablette en skootrekenaars glad nie in heelparty skole toegelaat nie. Gebondenheid binne die klaskamer sonder die gebruik van tegnologie is nie veronderstel om ’n stremming vir effektiewe leer te wees nie. Myns insiens is sosiale media ’n MOET in die klaskamer en vervolgens gee ek, aan die hand van Afrikaans as vakgebied, redes hiervoor. In hierdie blog fokus ek slegs op drie vorme van sosiale media, naamlik: Facebook, Remind en Twitter.

Hoewel Facebook in ’n klasopset nadelig kan wees, omrede dit heelwat persoonlike / private inligting oor ’n leerder kan bevat, is daar ook voordele aan verbonde. ’n Onderwyser en die leerders kan byvoorbeeld sien wanneer ’n klasmaat verjaar of wat sy / haar kontakbesonderhede in die geval van nood is. ’n Groep kan op Facebook gestig word, sodat al die leerders en die onderwyser met mekaar kan kommunikeer. Facebook-blaaie soos Litnet, Versindaba, aanlyn woordeboeke, Grapblad, Argaiëse uitdrukkings, Die Burger, Eikestad nuus, Netwerk 24 of Afriforum is maar enkele voorbeelde in verband met Afrikaans wat nuttig kan wees vir leerders. Indien die inligting wat onder ’n leerder se profiel op Facebook verskyn té persoonlik is en die onderwyser nie hierop inbraak wil maak nie, kan Remind altyd gebruik word. Laasgenoemde stel die onderwyser daartoe instaat om effektief met leerders te kommunikeer - sonder dat die leerders toegang tot mekaar se kontakbesonderhede het. Die onderwyser kan selfs belangrike dokumente in Pdf-formaat vir die leerlinge op Remind stuur. 

Twitter is ook handig as dit kom by die volg van belangrike nuusgebeure. In sy artikel lig Nicholas Provenzano twee belangrike punte van hiérdie vorm van sosiale media uit. Twitter is eerstens ’n ideale manier waarop huiswerk aangekondig en belangrike inligting weergegee kan word. Tweedens kan ’n leerder enigiets wat hy / sy waarneem of ervaar én wat verband hou met die Afrikaanse klas op Twitter deel. Dus is daar die potensiaal om met die onderwyser en klasmaats buite die klaskamer te kommunikeer. Effektiewe leer kan sodoende deur middel van interaksie op sosiale media buite die klaskamer plaasvind. 

Ek gaan van die standpunt uit dat sosiale media in die 21ste eeu noodsaaklik is in klaskamers - veral in Suid-Afrika waar diegene uit lae-inkomste groepe ook moet leer hoe om effektief op sosiale media te kommunikeer. Daar behoort dus weggedoen te word met die "digitale gaping" wat tussen verskillende klasse ontstaan. Hierdeur kan daar méér kulturele en diverse interaksie tussen leerders op sosiale media plaasvind. 

Monday, 22 February 2016

Digitale pedagogie as hulpmiddel om te onderrig

Soos wat daar uit die titel afgelei kan word, handel hierdie blog oor digitale pedagogie en die wyses waarop onderwysers dit nuttig in die klaskamer kan gebruik om effektiewe leer te bevorder. In sy artikel, "Decoding Digital Pedagogy, PT. 1: Beyond the LMS", gaan Sean Michael Morris van die standpunt uit dat digitale pedagogie en (aanlyn) onderrig nie verwar moet word nie. Daarom gee ek eerstens aandag aan die verskil tussen digitale pedagogie en onderrig.

Pedagogie is myns insiens dié oomblikke van interaksie wat plaasvind, sodat daar geleer kan word. Die ideaal is dus dat leer tot stand kom vanuit pedagogie wat dit voorafgaan. Die interaksie wat onderling tussen leerders, onderwysers of tussen leerders n onderwysers plaasvind is aktief. Aktiewe leer vind plaas wanneer leerders in ’n klasopset deelneem, kreatief is en kritiese denke ontwikkel. Hierteenoor kan passiewe leer gesien word as leerders wat soos "empty vessles" of lëe houers deur die onderwyser met kennis gevul word. Morris meen dat onderwysers moet waak teen die LMS (Learning Management System), omrede dit maklik kan neig tot passiewe leer. Om ’n klas aan te bied deur die gebruikmaking van tegnologie beteken nie noodwendig dat leer gaan plaasvind nie. Dit is maklik om as onderwyser inligting bloot op skyfies te plaas of ’n film vir leerders te wys en, soos in die geval van tradisionele onderrig, vir die klas voor te hou. Maar in so ’n klas sal effektiewe leer moeilik plaasvind, weens die gebrek aan interaksie.

Onderwysers behoort elektroniese elemente in die klaskamer te gebruik as hulpmiddels om ’n klas aan te bied; om die wêreld daar buite te betrek en binne-in die klaskamer te bring. Maar tegnologie behoort opsigself nie die rol van die onderwyser in die klaskamer in te neem nie. Jesse Stommel skryf ook in die artikel "Decoding Digital Pedagogy, PT. 2: (Un)mapping the Terrain" dat digitale pedagogie die betrekking van elektroniese elemente in die klaskamer is. Dit word betrek om die ervaring van leer en onderrig te verander en verkieslik te verryk.    

Wednesday, 17 February 2016

’n Digitale era wat ons nie kan vryspring nie

’n Digitale era wat ons nie kan vryspring nie

My eerste blog is ’n reaksie op Paul Fyfe se artikel getiteld "Digital Pedagogy Unplugged". In sy artikel word vrae vir die leser gevra en ek fokus spesifiek op die volgende: "Is dit moontlik om van digitale humanisme oftewel mensheid te praat sonder om te dink aan rekenaars of elektronika?" en "Kan daar digitale pedagogie wees sonder rekenaars?". Die leser se onmiddellike reaksie is waarskynlik "nee", omrede ons geneig is om iets wat digitaal is met elektronika of tegnologie te assosieer. Maar die woord "digitaal" beteken "vinger" of "toets" en alhoewel elektronika dikwels werk met die druk van jou vinger op ’n knoppie, is dit nie ’n noodwendigheid dat daar sprake van rekenaars of elektroniese media hoef te wees nie.  

Met betrekking tot onderrig en leer in die klaskamer is daar verskeie debatte oor die gebruik van rekenaars en ander elektroniese media. Myns insiens is daar verskeie voordele aan verbonde vir die gebruik hiervan en interaksie hiermee in die klas. Die onderwyser en leerders het met die druk van ’n knoppie toegang tot ’n magdom bronne. Dus is inligting ontsettend vinnig bereikbaar en kan heelwat tyd bespaar word. Dink in vergelyking hiermee aan die tydrowendheid om biblioteek toe te gaan en boeke uit te neem. Kinders leer nuwe vaardighede en tegnieke om inligting in te win en kennis op te doen. Tog is daar ook nadele wat ’n mens in ag moet neem as dit kom by die gebruik van elektronika in ’n klasopset. In ’n Suid-Afrikaanse konteks het alle leerders en onderwysers nie vrylik toegang tot tegnologie soos tablette, selfone of rekenaars nie. Leerders kan dit verleer om byvoorbeeld te "soeklees" as hulle gerieflikheidshalwe van die "find" of "search" knoppies gebruik maak. Ten spyte daarvan dat leerders interaktief kan wees op byvoorbeeld sosiale media, behoort die interaksie, sosialisering en direkte konfrontasie tussen leerders (onderling) en die onderwyser in ’n klaskamer nie afgeskeep te word nie. Want dit is werklik waar leer plaasvind - nie net in ’n bepaalde vakgebied nie, maar ook in die lewe. 

Die teenwoordigheid van tegnologie in ’n skoolopset stel ook eise aan onderwysers. ’n Uitdaging is om byvoorbeeld te sorg dat kinders tegnologie nuttig gebruik in verband met die vakinhoud eerder as om doenig te wees op sosiale media. Skyfies oftewel "Power Points" kan gerieflik wees vir klasaanbiedings, maar onderwysers behoort te waak teen kolpunte wat vervelig kan raak vir leerders, weens ’n gebrek aan interaksie.    

Ek wil van die standpunt uitgaan dat ons deel geword het van ’n digitale era wat ons nie kan vryspring nie. Tegnologie en elektronika kan en moet in die onderwys gebruik word om te help dat leer méér effektief en makliker plaasvind. Maar onderwysers behoort ook te waak daarteen om slegs hierop staat te maak, omdat dit weer kan lei tot ander probleme. ’n Enkele voorbeeld is sosialiseringsprobleme; as ’n kind nie gewoond daaraan is om een-tot-een interaktief deel te neem in ’n klasopset nie.