Digitale pedagogie as hulpmiddel om te
onderrig
Soos wat daar uit die titel afgelei kan word, handel hierdie blog oor
digitale pedagogie en die wyses waarop onderwysers dit nuttig in die klaskamer
kan gebruik om effektiewe leer te bevorder. In sy artikel, "Decoding
Digital Pedagogy, PT. 1: Beyond the LMS", gaan Sean Michael Morris van die
standpunt uit dat digitale pedagogie en (aanlyn) onderrig nie verwar moet word
nie. Daarom gee ek eerstens aandag aan die verskil tussen digitale pedagogie en
onderrig.
Pedagogie is myns insiens dié oomblikke van interaksie wat plaasvind,
sodat daar geleer kan word. Die ideaal is dus dat leer tot stand kom vanuit
pedagogie wat dit voorafgaan. Die interaksie wat onderling tussen leerders,
onderwysers of tussen leerders n onderwysers plaasvind is aktief. Aktiewe leer
vind plaas wanneer leerders in ’n klasopset deelneem, kreatief is en kritiese
denke ontwikkel. Hierteenoor kan passiewe leer gesien word as leerders wat soos
"empty vessles" of lëe houers deur die onderwyser met kennis gevul
word. Morris meen dat onderwysers moet waak teen die LMS (Learning Management
System), omrede dit maklik kan neig tot passiewe leer. Om ’n klas aan te bied
deur die gebruikmaking van tegnologie beteken nie noodwendig dat leer gaan
plaasvind nie. Dit is maklik om as onderwyser inligting bloot op skyfies te
plaas of ’n film vir leerders te wys en, soos in die geval van tradisionele
onderrig, vir die klas voor te hou. Maar in so ’n klas sal effektiewe leer
moeilik plaasvind, weens die gebrek aan interaksie.
Onderwysers behoort elektroniese elemente in die klaskamer te gebruik as
hulpmiddels om ’n klas aan te bied; om die wêreld daar buite te betrek en
binne-in die klaskamer te bring. Maar tegnologie behoort opsigself nie die rol
van die onderwyser in die klaskamer in te neem nie. Jesse Stommel skryf ook in
die artikel "Decoding Digital Pedagogy, PT. 2: (Un)mapping the
Terrain" dat digitale pedagogie die betrekking van elektroniese elemente
in die klaskamer is. Dit word betrek om die ervaring van leer en onderrig te
verander en verkieslik te verryk.
No comments:
Post a Comment